top of page
Free-To-Grow tree
Boosting employee wellbeing growth and engagement

PACT hope warriors leer van Staying Strong


PACT hope warriors leer van Staying Strong

Alinda Nortje en Free To Grow het vanjaar op 18 Julie, as deel van hul Mandela Day feesviering, hul nuutste opleidingprogram Staying Strong aan Prince Albert Gemeenskap Trust (PACT) geskenk vir aanbieding aan 20 Hope Warriors.


Alinda het ’n lang en persoonlike geskiedens met Prins Albert. As ’n klein dogtertjie het sy oor vakansietye altyd by haar oupa, oom Daan Botha, in Prins Albert kom kuier en onthou nog goed hoe hulle met hul self-gemaakte bootjies in die leiwater gespeel het.


Staying Strong is deur Alinda en haar span ontwerp tydens grendeltyd verlede jaar. Die program fokus daarop om vaardighede te ontwikkel vir volhoubare emosionele welstand, soos Veerkragtigheid, Optimisme en Eienaarskap. Die aanbieding van die program by PACT was daarop gemik om ons Hope Warriors verder te bemagtig en sterk te maak vir hul rol as veranderingsagente in ons gemeenskap.



Die Staying Strong Program bestaan uit 15 modules en oor ’n periode van sewe dae het ek die voorreg gehad om saam met die Hope Warriors daagliks vir ’n uur en ’n half deur die inhoud van die modules te werk en in klein sirkel groepbesprekings te bespreek.


Woensdag, 18 Augustus het Alinda op haar unieke en inspirerende manier, via zoom, die eerste werkswinkel afgeskop.


Tydens week een het Hope Warriors die geleentheid gehad om hul huidige emosionele welstand te evalueer aan die hand van die BRAVE akroniem wat staan vir: B = Body, R = Relationships, A = Attitude, V = Value-add at work, E = Energy.


Die realiteit is dat wat buite ons gebeur ‘n impak het op hoe ons dink en voel aan die binnekant. Ons is soms nie eers bewus daarvan nie. Dit is egter baie belangrik om te weet wat vir ons stres veroorsaak sodat ons iets daaraan kan doen. Die eerste stap van sterk wees is selfkennis.


In week twee het ons geleer watter spiere ons benodig om sterk te wees, en hoe ons nuwe gewoontes kan leer om dit wat stres in ons lewens veroorsaak aan te spreek. Ons leer van hoe belangrik ’n mens se houding en ingesteldheid is, en hoe dit ’n mens ondersteun om daardie moeilike tye in ons lewens te navigeer.


Die akroniem OROS word voorgestel – dit staan vir die volgende boublokke van emosionele fiksheid: O = Optimism, R = Resilience, O = Ownership, S – Support.


In die werksessies kry Hope Warriors die geleentheid om die vaardighede wat elkeen van hierdie boublokke ondersteun te leer ken en verstaan. In klein en groter sirkelbesprekings kry hulle ook die geleentheid om te gesels oor die toepassing daarvan in hul eie lewens, en hoe hulle by mekaar kan leer. Spanlede leer mekaar beter ken en as ’n span is daar wonderlike insigte oor hoe hulle mekaar in die toekoms beter kan ondersteun in die werksplek.


Op die laaste dag van die Staying Strong program fokus ons op die belangrikheid van ’n gesonde lewenstyl om stres in ons lewens te bestuur. Weereens word ’n akroniem ingespan om ons hiermee te help, en dit is die woord STRONG wat staan vir: S = Sleep well, T = Train well, R = Relax well, O = Organise well, N = Nourish well, G = Give well.


Hope Warriors kry weer die geleentheid om hul eie lewenstyl te ondersoek aan die hand van die boublokke vir ’n gesonde lewenstyl, en in ons gesprekke besef ons weereens die STRONG rolmodel wat Hope Warriors is vir ander jongmense in ons gemeenskap.


Dit was vir my ’n groot voorreg om hierdie groep jongmense in ons gemeenskap deur die Staying Strong program te begelei. Die aktiewe deelname en toegewydheid waarmee die span aan die week deelgeneem het was baie inspirerend. Julle kan trots wees! Die vlak van kennis en vaardighede wat die program in ’n kort tyd op ’n kreatiewe manier oorgedra en gebou het is tipies en uniek aan die hoё standaard van Free To Grow se programme.


In die volgende paar weke sal ons saam dink oor hoe ons Hope Warriors kan aanhou ondersteun om hul nuwe emosionele welstand vaardighede op ’n volhoubare wyse te kan aanhou uitleef, en ook hoe ons die program wyer beskikbaar kan stel in die toekoms.



Oor die skrywer


Thana de Clerk is ‘n bedryfsielkundige en “integral professional coach”. Sy werk ook as konsultant vir Free to Grow.

bottom of page